Met al die krisisse wat gelyklopend in Suid-Afrika afspeel het baie kommentators gehoop dat gisteraand se Staatsrede ʼn moontlike keerpunt sou wees. Hier is ʼn paar dinge om te weet.
Die Staatsrede was ʼn kombinasie van motiveringspraatjie oor samewerking en hoop, en ʼn baie lang lys van al die probleme en inisiatiewe om dit aan te spreek. Baie min daarvan was nuut. Meeste van die beter idees en die slegter idees het ons al gehoor, so ten minste is daar nie nuwe beleidsonsekerheid nie. Mens is wel met die indruk gelaat van hoe stadig dinge gebeur en hoe min daar al gedoen is – planne word gefinaliseer, programme begin momentum kry – ʼn groot deel van die vordering is op papier. Ek neem ook meeste van die syfers met ʼn knippie sout. Byvoorbeeld is ʼn groot deel van die investeringsbedrae wat genoem is wat geld wat belowe is, maar nog nie bestee is nie.
Om die elektrisiteitskrisis as ramptoestand te verklaar is die belangrikste nuus, maar dit is net die oplossing vir die probleem as die regte dinge gedoen word. Dit help darem dat die regering Eskom gaan ondersteun om nog geld vir diesel te kry. En verder wag ons vir die Begrotingsrede om te hoor watter aansporings daar is om van die kragnetwerk af te kom.
Daar is meer dinge om oor bekommerd te wees as wat daar voor tyd is in ʼn kort podcast so ek vertrou maar die President is reg oor ons almal se vasbyt en veerkragtigheid.